|
Bekende argitek, Gilbert Colyn wat ook die
Konservatorium vir Musiek aan die Universiteit van
Stellenbosch ontwerp het, (hierdie gebou word steeds beskou as
een van die beste konserwatoriums ter wêreld) het die
erg verwaarloosde geboue van Klein Boschkloof met 'n
sensitiewe aanslag en kundigheid omskep tot drie prag-chalets:
Die perdestal, skuur en die ou plaashuis (volgens oorlewering
sowat 250 jaar oud!) is geleë tussen die lemoenboorde en
het 'n lieflike uitsig oor die majestieuse berge. By
Klein Boschkloof kan die stilte en vreedsaamheid
letterlik gevoel word.
Met die
dorp en al sy moderne geriewe binne maklike bereik, is
Klein Boschkloof die ideale basis vanwaar die
Cederberge, Lambertsbaai, Elandsbaai, die sendingstasie
te Wupperthal, Namakwaland en vele ander klein dorpies
aan die N7 Nasionale Pad, ontdek en beleef kan word.
Klein Boschkloof is die ideale bestemming vir 'n
vreedsame naweek weg van die stadsgewoel, 'n
familiebyeenkoms, 'n intieme troue of
verjaarsdagpartytjie vir diegene wat bloot net van
alles wil wegkom!
Gedurende die lente (vanaf Augustus tot Oktober) skud
die omgewing wat Klein Boschkloof knus omring, sy
dorre baadjie in 'n japtrap af en ontpop
in 'n malse bont kleurspel van veldblomme wat duisende
toeriste lok.
Plekke
wat werklik die moeite werd is om 'n besoek te regverdig
wanneer u by Klein Boschkloof kom kuier, sluit
onder meer in: Die bekende San rotstekeninge, Die
rooibosteeplase, die legendariese Strassberger
skoenfabriek, die nabygeleë Voëleiland, die
wêreldbekende rotsformasies van die Cederberge en 'n
verskeidenheid ander plekke wat besienswaardig is.
Vir die
meer energieke besoeker bied Clanwilliam 'n jaarlikse
driekamp aan in Oktober, staproetes, swem, fietsry,
bergklim, "bouldering", perdry, watersport en hengel by
die Clanwilliam Dam.
Jy kan natuurlik ook die gebied
besigtig vanuit een van die vliegtuie van The Red T
Company! Clanwilliam
spog met 'n baie matige winterklimaat en borrelende
sjampanje-aande vanaf Mei tot Oktober!
Ongelukkig word geen troeteldiere toegelaat by Klein
Boschkloof nie en bied ons geen kredietkaartgeriewe
aan nie.
Daar is egter veilge parkering beskikbaar en 'n
heerlike swembad in die kompleks. 'n Kontinentale ontbyt
is ook beskikbaar op versoek (Onthou om ons betyds te
laat weet!) Op die
plaas word hout en tuisgemaakte konfyt en konserf te
koop aangebied.
Klein Boschkloof is geleë in 'n malaria-vrye gebied.
ONTHOU:
Die verskil tussen "gewoon" en "buitengewoon" is daardie
spesiale bietjie ekstra . . . en DIT is presies wat
Klein Boschkloof bied!
|